Geingob bly Swapo se partypresident

Die Namibiese Presidensie het nuusberigte ontken dat President Hage Geingob ontevrede is met die adjunk-premier Netumbo Nandi-Ndaitwah se herverkiesing as visepresident van die Swapo Party. In ‘n verklaring het die Presidensie herhaal dat Nandi-Ndaitwah behoorlik verkies is, en volgens die reëls en prosedures vir die verkiesing van party-ampsdraers, is sy die outomatiese presidentskandidaat. Geingob het beklemtoon dat hy sedertdien besluit het dat hy sy grondwetlike termyn van vyf jaar as die party-president tot die volgende Swapo-kongres ten volle sal uitdien. Die President het verder opdrag gegee dat enige faksies wat na die onlangse kongres gevorm is op grond van die ondersteuning van ‘n spesifieke kandidaat, ontbind moet word.