Geestesgesondheid in Namibië bron van kommer

Daar is groot kommer oor die geesteswelstand van Namibiërs. Volgens die jongste berigte het 30 persent van landsburgers angs en kommer ervaar sedert Maart verlede jaar en een uit elke vyf het woede of hartseer by die werk ervaar in dieselfde tydperk. Gallup, wat die opname gedoen het, se hoof uitvoerende beampte Jim Clifton vra wat as die volgende pandemie een van geestesgesondheid is? Net 15 persent van Namibiërs is positief oor die volgende vyf jaar. Die gemiddelde is 21 persent vir Afrika Suid van die Sahara en 32 persent wêreldwyd. Gallup sê werkgewers moet hulle begin bemoei met die omstandighede van hulle werknemers buite die werksverband omdat dit direk verbind kan word met produktiwiteit.