Hittegolf in VSA, Kanada – talle sterf

Minstens 134 mense is dood te midde van ‘n rekord hittegolf in die Vancouver-streek in Kanada. Die land het gister sy hoogste temperatuur ooit aangeteken, 49,5 grade Celsius. Volgens die polisie in Vancouver, is hulle sedert Vrydag na meer as 65 sterfgevalle wat met die hitte verband hou, uitgeroep. Vancouver wat aan die Stille Oseaan-kusgebied lê, teken die afgelope paar dae reeds temperature aan wat sowat 20 grade hoër as normaal is. Die uitermatige hitte wat van Oregon in Amerika tot in Kanada se Noordpool-streke strek, word toegeskryf aan ‘n hoë-druk stelsel wat warm lug in die streek vasvang.