Geen verdagtes nog vas vir Rita Simon se moord

Die Namibiese polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die Hardap-streek, adjunk-kommissaris Eric Clay, het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat geen verdagtes nog in verband met die moord van die 83-jarige Rita Simon op Mariental in hegtenis geneem is nie. Clay het gesê die polisie is wel besig om leidrade op te volg. Vier verdagtes het in die verloop van Vrydagnag en Saterdagoggend by Simon se agterdeur by haar huis in Aubstraat ingebreek. Sy en haar huishulp is met kleefband, stukke klere en sykouse vasgebind. Verskeie items, soos twee selfone en trouringe, is in die huis gesteel. Volgens die polisie kon die huishulp toe die verdagtes vort is, haarself loswikkel. Toe sy na Simon is om haar te hulp snel, het sy haar dood aangetref. Daar word vermoed dat Simon versmoor het, maar ‘n nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar sterfte bepaal. Intussen het die gemeenskap van Mariental en die Suide hul skok oor hul geliefde inwoner uitgespreek.