Geen land voldoen in 2021 aan WGO se luggehalte-standaarde

Geen land het in 2021 aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se luggehalte-standaarde voldoen nie. Dit is volgens ‘n opname oor besoedelingsdata in 6 475 stede. Volgens ‘n Switserse besoedelingstegnologie-maatskappy wat luggehalte monitor en die data saamgestel het, IQAir, het Indië se besoedelingsvlakke erger geword en Nieu-Delhi is steeds die wêreld se mees besoedelde hoofstad. Bangladesj is die mees besoedelde land en Tsjad is tweede op die lys, nadat dié Afrika-land se inligting vir die eerste keer ingesluit is. Die WGO beveel aan die gemiddelde jaarlikse lesing van klein, gevaarlike deeltjies in die lug behoort nie meer as vyf mikrogram per kubieke meter te wees nie.