Geen bystand vir boere wat met olifante sukkel nie

Kommersiële boere in Namibië het geen ondersteuning in verband met konflik met olifante nie, al is daar meer as 400 olifante wat gereeld of permanent op kommersiële plase voorkom. Volgens die jongste Nasionale Olifant Bewaringsplan wat deur die ministerie van omgewingsake bekend gemaak is, is daar 60 olifante in die Omatjete-gebied met 200 by Kamanjab en tot ‘n 100 in Mangetti naby Grootfontein. Volgens die ministerie gaan beide kommersiële en hervestigde boere gebuk onder ekonomiese uitdagings en sukkel met herhaalde skade. Ongeveer 180 plase het skade van olifante aangemeld en 13 persent van die olifantbevolking in die land kom buite bewaringsgebiede voor.