Gawanas reël bystand vir Rehoboth-brand

Die burgemeester van Windhoek Sade Gawanas het bevestig dat die Stad kontak gemaak het met belanghebbendes en rolspelers in beide die Khomas- en Hardap-streke om die brandbestrydingpogings net suid van Rehoboth by te staan. Die sogenaamde Rehoboth-Tsumis brand het Woensdagmiddag ontstaan en woed steeds. Die brand het vanoggend in ‘n westelike rigting oor die hoofpad versprei en toe suid gedraai. Daar word beraam dat ongeveer 20 000 hektaar reeds verwoes is. Daar is uitdagings met genoeg brandstof, water en toerusting. Echo Service Station op Rehoboth ontvang ook op die oomblik skenkings en sal reël dat dit die spanne bereik.