Gauteng-vrou vas omdat sy jok oor kaping

Die polisie in Gauteng het ‘n 28-jarige vrou in hegtenis geneem wat na bewering op sosiale media oor ‘n kaping gejok het. Sy staan tereg op aanklagte van meineed, regsverydeling en bedrog. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê die verdagte het onder eed in ‘n verklaring beskryf hoe haar voertuig Woensdag deur onbekende mans in Mohlakeng in Randfontein gekaap is. Masondo sê sy het beweer die mans het haar in die kattebak geprop en die grootste deel van die aand met haar rondgery.