Frankryk en Argentinië in die eindstryd om die Wêreldsokkerbeker te wen

Sokker: Die verdedigende kampioen, Frankryk, het ‘n ontmoeting met Argentinië beklink in Sondag se Wêreldbeker-eindstryd in Katar. Theo Hernandez en Randal Kolo Muani het Frankryk se doele aangeteken vir ‘n oorwinning van 2-0 oor Marokko. Marokko was die eerste Afrikaland in die geskiedenis om die voorlaaste ronde te haal na geskiedkundige oorwinnings oor Spanje en Portugal. Frankryk gaan probeer om die eerste land te word om agtereenvolgende Wêreldbekertoernooie te wen sedert Brasilië dit in 1962 vermag het. Afskop is Sondagmiddag vyf-uur, Namibiese tyd.