Fishrot-lot moet (weer) wag om te hoor oor borg

Regter Shafimana Ueitele se beslissing in die hooggeregshof om die borgtog-aansoek van ses van die Fishrot-beskuldigdes van die hand te wys, was verkeerd, het hul prokureurs in die hooggeregshof betoog. Dit was die argumente van senior advokaat Vas Soni en mede-prokureur Thabang Phatela tydens die aanhoor van ‘n appèl deur die ses beskuldigdes teen regter Ueitele se afwysing van hul aansoek om borgtog in April verlede jaar. Die verhoor voor waarnemende appèlregters Theo Frank, Jeremiah Shongwe en Kananelo Mosito het Dinsdag geëindig met die hof wat uitspraak voorbehou. Frank het die appellante en die staat ingelig dat hulle in kennis gestel sal word sodra die hof se beslissing gereed is.