Farmers Meat Namibia op Mariental wil 280 000 skape in 2025 slag
Die landbouminister Calle Schlettwein het vandag Farmers Meat Market op Mariental heropen. Die abattoir is deur Hartlief van die Ohlthaver en List-groep oorgeneem en staan nou amptelik bekend as Farmers Meat Namibia. Wessie van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die groep, sê 75 miljoen Namibiese dollar is aan skaapprodusente tussen Oktober verlede jaar en Junie vanjaar uitbetaal. Hy sê vir die 2023-kalenderjaar word beplan om 55 000 skape te verwerk en tussen 100 000 en 170 000 skape volgende jaar, wat verdere beleggings sal verg. Teen 2025 beoog die maatskappy om volle produksiekapasiteit te bereik en 280 000 skape te verwerk.