Families van weerligslagoffers in Noorde kry begrafnisbystand

Die kantoor van die Namibiese eerste minister gaan vir die begrafnis van die weerlig-slagoffers in die Epembe-kiesafdeling in die Ohangwena-streek betaal. Vyf jong mense, tussen vier en 19 jaar oud, het verlede Dinsdag doodgebrand in ‘n hut wat deur weerlig getref is by die Oneifiyo-nedersetting. Die vyf was deel van ‘n groep van nege wat in ‘n tradisionele hut was toe dit aan die brand geslaan het nadat dit deur weerlig getref is. Anna en Victoria Immanuel, Matheus Lukas, Ruth Kashaalwa en Matheus Phillipus, het volgens die polisie onherkenbaar verkool. Die kantoor van die eerste minister het sy medelye met die slagoffers se families uitgespreek. Volgens die uitvoerende direkteur, I-Ben Nashandi, sal die kantoor die begrafniskoste en doodskiste ter waarde van 24 500 Namibiese dollar dra. Voedselhulp van 10 000 dollar en tydelike behuising in die vorm van tente sal ook aan die families verskaf word.