Facebook sê môre oor Trump

Facebook sal môre aankondig of die voormalige Amerikaanse president Donald Trump weer op die sosialemedia-platform toegelaat sal word. Facebook het Trump se rekening opgeskort ná die opstande by die Kongresgebou op 6 Januarie. ‘n Groep van sy ondersteuners het die gebou bestorm uit ontevredenheid met verlede jaar se verkiesingsuitslae. Die saak is vir ‘n besluit na Facebook se toesigraad verwys. Die platform se Bestuurshoof, Mark Zuckerberg, sê hulle het in daardie stadium geglo die risiko is eenvoudig te groot om Trump toe te laat om steeds hul diens te gebruik.