EU het kommer oor korrupsie

Die Europese Unie sê die bevindings van ‘n verslag deur Transparency International oor korrupsie is kommerwekkend. Die Global Corruption Barometer-verslag onthul dat bykans ‘n derde van inwoners in die EU op persoonlike konneksies staat gemaak het om op die hoogtepunt van die pandemie toegang tot gesondheidsorgdienste te verkry. Nagenoeg 62 persent van die 40 000 respondente wat aan die peiling in 27 lande in die EU deelgeneem het, het gesê korrupsie in hulle regerings is ‘n groot probleem. ‘n Woordvoerder van Transparency International, Delia Ferreira Rubio, sê lande regoor die streek is kwesbaar vir die nadelige gevolge van korrupsie.