Eskom-hoof in Desember vergiftig

Die uitvoerende hoof van Eskom André de Ruyter, het aan Suid-Afrikaanse media bevestig dat dokters op 13 Desember en in opeenvolgende toetse ‘n paar dae uitmekaar verhoogde vlakke van sianied in sy bloed gevind het. De Ruyter het op 12 Desember sy bedanking ingedien en dit is twee dae later amptelik aangekondig. Volgens ‘n verslag deur EE Business Intelligence het De Ruyter skielik siek geword nadat hy ‘n koppie koffie by Eskom se kantore in Sunninghill gedrink het. Hy is na die dokter geneem, waar sianied-vergiftiging by hom gediagnoseer is. De Ruyter het op 5 Januarie ’n strafregtelike saak geopen.