Esau en Van Wyk vra weer vandag vir borgtog

Fishrot-beskuldigde en voormalige minister van visserye, Bernhardt Esau, en Nigel van Wyk gaan vandag weer probeer om hul vryheid in die Windhoekse hoërhof te kry. Een van hul medebeskuldigdes, Tamson Hatuikulipi, is Maandag ingelig dat hy nog Kersfees saam met die res van die Fishrot-lot agter tralies sal deurbring, aangesien die uitspraak vir sy borgaansoek eers op 27 Desember gemaak sal word. Waarnemende hoërhofregter David Munsu het die borgaansoek van Esau en Van Wyk tot vandag uitgestel, wat vasbeslote is dat die staat nie ‘n sterk saak teen hulle het nie en hulle op borg vrygelaat moet word om beter vir hul verhoor voor te berei. Die twee, net soos hul agt medebeskuldigdes in Namibië se grootste visvangkorrupsieskandaal waarby ‘n Yslandse maatskappy, Samerji, betrokke was, het die afgelope vier jaar verskeie mislukte pogings aangewend om uit die tronk bevry te word terwyl hulle verhoorafwagtend is. Die verwagte beslissing in Hatuikulipi se aansoek, asook die verhore van Esau en Van Wyk, kom net twee weke nadat die hooggeregshof gelas het dat hul medebeskuldigde, Ricardo Gustavo, wat sy borgtogaansoek byna ‘n jaar tevore gewen het, moes terugkeer tronk toe.