EPL: Daar’s niks onderduims nie, dis net ‘n agterstand

Die Namibiese ministerie van myne en energie het beken dat hy ‘n reuse-agterstand het in die verwerking van aansoeke vir eksplorasie-lisensies. Daar is in die afgelope 12 maande 640 aansoeke ontvang en volgens plaaslike media het net 62 aansoekers tot dusver lisensies ontvang met 110 wat kennis gegee is dat lisensies wel uitgereik sal word. Volgens die minister, Tom Alweendo, het 174 aansoeke verval omdat die omgewingsklaringsertifikate nie ontvang is nie. Alweendo het die aanmerkings gemaak na kommer uitgespreek is dat die proses om lisensies toe te ken nie deursigtig is nie. Daar word beweer dat die oordrag van ‘n lisensie normaalweg twee weke geneem het en nou duur die proses vir ses maande met voorkeurige toekennings wat gemaak word. Alweendo sê die vertraging is net omdat daar ‘n agterstand is.