Engeland klop Wallabies in Brisbane

Rugby: Engeland het kopgehou en Australië Saterdag in die tweede toets in Brisbane met ʼn broodnodige oorwinning van 25-17 geklop, wat aan die beleërde afrigter, Eddie Jones, ʼn bietjie meer beweegruimte besorg. Engeland het hulleself reggeruk na hulle verlede Saterdag in Perth met 30-28 verloor het, en het indrukwekkend begin. Hulle het die Wallabies aanvanklik ore aangesit. ʼn Drie net voor rustyd deur die stut, Taniela Tupou, het die Wallabies egter gehelp om ʼn terugveg-poging te begin. Owen Farrell het met ses strafdoele en ʼn doelskop geslaag om Engeland te help om die reeks van drie toetse gelykop te maak.