Elvis se dogter sterf ná hartaanval

Lisa Marie Presley, sanger en liedjieskrywer en enigste kind van die rock-legende Elvis, is op 54-jarige ouderdom dood. Sy is Donderdag in die hospitaal opgeneem ná ‘n hartaanval by haar huis in Calabasas, Kalifornië. Dit volg net enkele dae nadat sy die Golden Globes saam met haar ma, Priscilla Presley, bygewoon het. Sy het drie albums vrygestel en op haar eerste een in 2003 was die trefferlied Lights Out, wat as goud gesertifiseer is. Presley was ook bekend vir ‘n reeks hoëprofiel-huwelike met bekendes soos die pop-legende Michael Jackson en die akteur Nicholas Cage.