Elton en Zeenat sê oor aantygings

Die Springbokspeler Elton Jantjies en span-dieetkundige Zeenat Simjee het verklarings uitgereik in verband met aantygings dat die twee saam was by ‘n gastehuis in Mbombela. Simjee sê sy is die onderwerp van vernederende aanmerkings wat haar openbare beeld skend en voeg by dat daar geen manier is dat sy by ‘n gastehuis in Jantjies se geselskap was nie. Sy sê sy het haar ouers bygestaan tydens ‘n routydperk. Sy voeg by dat sy uiters trots is om deel van die Springbok-span te wees en dat sy graag die aangeleentheid agter haar wil sit sodat sy haar loopbaan by die span kan voortsit. Op sy beurt vra Jantjies om verskoning aan sy ondersteuners en werkgewers maar, sê dat Simjee nooit by enige gastehuis waar hy tuisgegaan het was nie, en dat hy jammer is dat haar naam deur die modder gesleep word. Hy voeg by dat hy ‘n morele gedragskode het waarby hy hou en dat hy verbind is tot sy familie.