Elizabeth is van ouderdom dood, aankondiging was 3 ure later

Hoë ouderdom is aangegee as die amptelike oorsaak van koningin Elizabeth se dood. Die Britse monarg is vroeër hierdie maand in die ouderdom van 96 in die Balmoral-kasteel dood ná 70 jaar op die troon. Skotland se Nasionale Rekorddiens het ‘n uittreksel van haar doodsertifikaat vrygestel, wat die tyd van haar dood as tien oor drie die middag van Donderdag 8 September aandui. Dit is 40 minute voordat haar kinders in Aberdeen aangekom het en drie ure later is haar dood eers amptelik aangekondig. Die koningin se enigste dogter, prinses Anne, word op die dokument genoem as die persoon wat die plaaslike registrateur van haar ma se dood in kennis gestel het. Die koningin is in Windsor-kasteel se St. George’s-kapel langs haar man, prins Philip, en haar ouers ter ruste gelê.