Voorlopige vliegtuig-ongeluksverslag van Impalila-eiland vrygestel

Die Namibiese ministerie van werke en vervoer het vandag die voorlopige vliegtuigongeluk-verslag vrygestel van die Cessna 210-vliegtuig wat op 30 Augustus by Impalila-eiland neergestort en die lewens van die vlieënier en vier lede van die Duitse Rings-gesin geëis het. Volgens die verslag het die vliegtuig van Scenic Air volgens ‘n ooggetuie pas na opstyging skerp links geswenk, die linkervlerk het ‘n boom langs die Zambezirivier getref en in die rivier naby die oewer geval. Volgens die verslag het die 21-jarige Suid-Afrikaanse vlieënier Nicole Mienie ‘n geldige mediese sertifikaat en 310,2 vliegure op haar kerfstok gehad, maar 82,1 uur op dié tipe vliegtuig, wat ‘n geldige lugvaartsertifikaat gehad het. Die ondersoek na die ongeluk duur steeds voort.