Eerste dodelik haai-aanval in 60 jaar in Sydney

Die eerste noodlottige haai-aanval in bykans 60 jaar in die Australiese stad Sydney het die lewe van ‘n onbekende man geëis toe hy by Little Bay naby Malabar geswem het. Plaaslike owerhede het die voorval bevestig en sê nooddienste is ontbied toe die man se liggaam gevind is. Die strand sowel as ander strande in die omgewing is daarna gesluit. Internasionale media berig talle mense het geswem, visgevang en roeiplank gery toe die slagoffer om hulp geroep het. Paramedici sê die man het noodlottige beserings opgedoen en hulle kon niks vir hom doen nie.