Eerste Covid-pil in Brittanje goedgekeur

Brittanje het die wêreld se eerste mondelingse antivirale middel vir die behandeling van Covid-19 goedgekeur. Die land se reguleringsagentskap vir medisyne en gesondheidsorgprodukte het bevestig Merck en Ridgeback Biotherapeutics se kapsule, bekend as Lagevrio, sal gebruik word. Die produk is gemik op behandeling van ligte tot matige gevalle in volwassenes wat in gevaar verkeer om ernstig siek te word. Daar word berig die onderneming het verder aansoek om magtiging gedoen vir noodgebruik in die Verenigde State. Die land se Voedsel- en Dwelmadministrasie beplan om aan die einde van die maand ‘n vergadering te hou om dit te bespreek.