Dwaine Pretorius onttrek aan T20-Wêreldbeker

Krieket: Die veelsydige Dwaine Pretorius moes noodgedwonge onttrek aan Suid-Afrika se groep vir die T20-Wêreldbekertoernooi in Australië. Hy het sy duim gekraak in Dinsdag se laaste T20 teen Indië waar hy drie paaltjies laat kantel en die Proteas gehelp het om ‘n oorwinning van 49-lopies te behaal. Die mediese hoof, Shuaib Manjra, sê Pretorius sal ‘n operasie moet ondergaan. Die veelsydige Marco Jansen is by die groep gevoeg terwyl ‘n plaasvervanger vir Pretorius binnekort aangekondig sal word. Die Wêreldbeker-toernooi begin volgende Sondag met die kwalifiseerders, en die Proteas speel hulle eerste wedstryd op 24 Oktober.