Duitse LP en reparasie-ondersteuner kom vandag in Namibië aan

Die lid van die Duitse parlement, die Bundestag en daardie land se Linkse Party, Sevim Dagdelen, kom vandag in Windhoek aan. Dagdelen beywer haar vir die erkenning van Duitse koloniale misdade en die de-kolonisering van Duitse buitelandse beleid. Weens die geskille oor die sogenaamde reparasies-ooreenkoms tussen die Duitse en Namibiese regerings, besoek sy Namibië van vandag tot 19 November vir politieke gesprekke. Dagdelen sal met eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila en die speaker van die Nasionale Vergadering professor Peter Katjavivi, vergader. Verdere samesprekings word beplan met die Namibies-Duitse parlementêre vriendskapsgroep. Dagdelen sal ook die begraafplase by Okahandja en Waterberg besoek. Sy sê sy skaam haar vir die Duitse regering wat steeds weier om die volksmoord wat hy in Namibië gepleeg het, te erken.