Drie mense vas oor diefstal van farao-standbeeld

Owerhede in Egipte sê drie mense is in hegtenis geneem nadat hulle probeer het om ‘n reuse-standbeeld van ‘n farao te steel. Die drie is betrap met ‘n hyskraan en ander gereedskap waarmee hulle probeer het om die tien ton standbeeld in die antieke stad Aswan te steel. Die standbeeld is van Ramses die Grote, wat meer as 3 000 jaar gelede dood is. Die polisie is besig met ‘n ondersoek om te bepaal of daar nog medepligtiges was. Egiptiese owerhede het die afgelope paar jaar duisende antieke ware wat onwettig uit die land geneem is, na die land teruggebring.