Dr. Danie Jordaan se dringende hofaansoek van die rol geskrapJune 24, 2023

Die dringende hofaansoek van dr. Danie Jordaan is van die rol geskrap waarin hy die hoërhof vra om ‘n beslissing deur die Namibiese Burgerlugvaart-owerheid dat hy nie meer as ‘n senior lugvaart mediese ondersoeker mag optree nie, ter syde te stel. Regter Marlene Tomassi het beslis dat finansiële verlies nie gronde vir dringendheid is nie. Die Windhoekse dokter moet alle regskoste van die aansoek opdok. Volgens Jordaan het die owerheid hom in Oktober 2020 in kennis gestel dat as gevolg van verskeie tekortkominge en foute wat deur ‘n oudit van sy mediese sertifisering van loodse opgetel is, dat hy nie meer in die gebied mag praktiseer nie. In nog ‘n skrywe ‘n paar weke later het die owerheid om ingelig dat hy weer ‘n kursus in die verband moet voltooi. In sy stukke het Jordaan melding gemaak van verskeie aspekte van die relevante regulasies en gesê mediese sertifisering vorm ‘n groot deel van sy mediese praktyk uit. Hy was ondersteun deur die Vliegtuig-eienaars en Vlieëniers-vereniging van Namibië.