Dordabis brand steeds

Teen 11-uur gisteraand was die brand in die Dordabis-omgewing nog nie onder beheer gebring nie. Volgens berigte het die brand op die plaas Brack Wes van André Gouws ontstaan en teen daardie tyd het dit in die rigting van die plase Waldburg en Stolzenfeld beweeg. Dit is aangedryf deur ‘n sterk suidewind. Tóé het dit reeds op die plase Brack Wes, Tsatsachas, Elisenhöhe en Langbeen gebrand. Dit het ook oor die C23-grootpad gespring. Dit is die tweede groot brand wat die gebied tref. Vroeg in Augustus is meer as 40 000 hektaar op 19 plase in dié omgewing in ‘n vyf dae lange brand verwoes.