Dodelike grondstortings in Indië

Minstens 25 mense is in die suidweste van Indië dood weens grondstortings en oorstromings ná swaar reën. Elf liggame is tot dusver in die Idukki-distrik gevind en nog 14 in die Kottayam-gebied. Duisende mense is na veiligheid geneem nadat huise weggespoel het. Die land se weermag, vloot en lugmag help met die reddingsoperasie en staan vloedslagoffers by. In 2018 is ongeveer 400 mense dood en meer as een-miljoen ontwortel weens die ergste oorstromings hierdie eeu in Kerala.