Dippenaarsaak: Kenner sê pad is gevaarlik vir buitelanders

Plaaslike media berig dat ‘n forensiese padongeluk-spesialis, Stanley Bezuidenhout sê die pad tussen Hentiesbaai en Swakopmund is ‘n spesifieke risiko vir buitelandse bestuurders. Bezuidenhout getuig op die oomblik in die moordverhoor van Jandre Dippenaar in die streekshof op Swakopmund. Hy sê daar is topografiese variasies in die pad wat kan lei tot swak sig van komende toestande en daar is nie genoeg waarskuwingstekens van veranderende omstandighede nie. In sy mening is die spoedbeperking van 100 kilometer per uur te hoog. Die toestande op die 70-kilometer roete het baie verbeter sedert 2014, toe die noodlottige motorongeluk, waarin ses mense dood is, plaasgevind het. Die saak duur voort voor landdros Gaynor Poulton.