Dippenaar het volgens ‘ejustice’ nog nie ‘n prokureur nie

Die siviele saak van Antonia Joschko teen Jandre Dippenaar is weer vandag voor regter Shafimana Ueitele. Hy het by sy vorige verskyning op 23 Februarie, waar die regter hom ‘n laaste kans gegee het om sy saak te verdedig of dit word geskrap ingevolge reël 53, gesê hy het regsverteenwoordiging bekom maar nie gesê wie vir hom optree nie. Volgens die bevel van Ueitele is die saak tot vandag toe uitgestel om nie net die verhoordatums te bepaal nie maar dat Dippenaar se regsverteenwoordiger op rekord kan kom. Tot op hede, is daar geen regsverteenwoordiger op rekord vir hom ingevolge die sogenaamde ejustice-stelsel nie. Joschko het reeds op 3 Maart ‘n statusdokument gelaai wat vra dat geen verdere uitstel gebied word nie. Dit is nie duidelik wat vanoggend gaan gebeur nie. Joschko dagvaar vir skadevergoeding van 715 000 euro en 500 000 Namibiese dollar na die noodlottige motorongeluk van 29 Desember 2014. Ses mense is dood, insluitend haar ouers en haar suster. Dippenaar word ook strafregtelik vervolg in die Swakopmund-streekshof, met onder andere, ses klagte van moord teen hom.