Diensplig lok gewelddadige reaksie in Rusland uit

Die Kremlin het erken dat foute gemaak is met die beplande mobilisering van 300 000 reserviste om die oorlog in die Oekraïne voort te sit. Daar is verskeie protesaksies in die land gehou met meer as 2 000 mense wat reeds in hegtenis geneem is. Talle Russe het vlug ingeslaan en internasionale nuusagentskappe berig dat daar Maandag ‘n ry voertuie van 20 kilometer lank by Georgië se grens was. ‘n Beampte wat inskrywings van reserviste beheer het is in die Siberiese stad, Ust-llimsk, ernstig beseer toe hy geskiet is deur ‘n vriend van ‘n reservis wat pas ingeneem is. Verskeie innemingsentrums is ook met petrolbomme bestook. Die publiek is ook kwaad omdat die totale getalle van reserviste nie in die dekreet ingeskryf is nie en sommige berigte lui dat tot ‘n miljoen reserviste opgeroep sal word.