Dienslewering lui tot honderde betogings

Frustrasie met die lewering van water- en sanitasie-dienste in Suid-Afrika het tussen Januarie 2013 en April vanjaar tot 585 gevalle van openbare betogings gelei met 378 wat in geweld ontaard het. Dit is vervat in ‘n verslag van die Instituut vir Sekerheidstudies. Die betogings het meer as 57 000 mense regstreeks geraak. Chandré Gould van die instituut sê ‘n beduidende aantal betogings oor water- en sanitasie-probleme het in klein of mediumgrootte dorpe in al die provinsies voorgekom. Sy sê die vinnige, respekvolle reaksie van plaaslike regering kan skade of mislukte dienslewering teenwerk.