Fishrot-samevoeging: regter sê op 6 Okt.

Die Fishrot-beskuldigdes sal op 6 Oktober hoor of die twee sake saamgevoeg word wanneer regter Christie Liebenberg uitspraak lewer. Net twee van die tien beskuldigdes, die voormalige minister van visserye, Bernhardt Esau en sy skoonseun Tamson Hatuikulipi staan nie die aansoek teen nie. Die staat sê dieselfde getuies sal in die twee sake geroep moet word indien hulle nie saamgevoeg word nie en ook, dat dit baie duur vir die staat sal raak. Die twee sake hou ook verband met mekaar. In die eerste saak is die sogenaamde Fishrot-lot in hegtenis geneem in November 2019 in verband met die omkoop skandaal van meer as 150 miljoen Namibiese dollar in verband met die visvang kwotas vir die Yslandse vismaatskappy Samherji. Die tweede saak hou verband met die misbruik van mag, geldwassery, bedrog en sameswering om korrupsie te pleeg. Die saak hou verband met wanvoorstellings aan die Ontvanger oor Nengomar Pesca Namibië se inkomste wat onderverklaar is.