Diana se Escort gaan onder die hamer

‘n Unieke swart Ford Escort wat in die 1980’s deur wyle prinses Diana bestuur is, word die naweek by Brittanje se Silverstone-renbaan opgeveil. Die RS Turbo Series 1 Escort het tussen 1985 en 1988 aan Diana behoort. Dit is vermoedelik die enigste voorbeeld van die model wat in swart gemaak is, volgens Silverstone Auctions, wat verwag dat dit meer as 100 000 Britse pond sal haal. Vir die prinses om die voertuig te bestuur, wat net minder as 40 000 kilometer op die klok het, was ‘n dapper keuse. Al die ander lede van die koninklike familie benut amptelike voertuie met bestuurders. Dit is volgende week die 25ste herdenking van Diana se dood.