Deokaran-moord skok, fluitjieblasers moet beter beskerm word

President Cyril Ramaphosa sê die moord op ‘n senior amptenaar van die Gautengse Departement van Gesondheid, Babita Deokaran, is ‘n skril herinnering aan die hoë risiko’s verbonde aan pogings om korrupsie in die gemeenskap te bekamp. Sy is verlede week voor haar huis in Johannesburg doodgeskiet. Deokaran was ‘n sleutelgetuie in die ondersoek na korrupte kontrakte vir die verkryging van persoonlike beskermende toerusting. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief dit is duidelik die regering moet nie net sy huidige benadering met betrekking tot die beskerming van getuies hersien nie, maar ook die breër beskerming van fluitjieblasers.