Damme lyk heel skaflik, behalwe die Ooste

NamWater se jongste damverslag toon dat die drie sentrale damme tans op 62,6 persent van kapasiteit staan met net meer as 1,1 miljoen kubieke meter water wat na Von Bachdam vanaf Omatako oorgepomp is. Von Bach is tans op 51,8 persent wat voldoende reserwes vir twee jaar is, mits water spaarsamig deur verbruikers benut word. In die Suide staan Hardap op 71 persent met net minder as 2,4 miljoen kubieke meter wat in sewe dae vanuit die dam gepomp is vir die Hardap-groenskema. Neckartal is op 99,8 persent en die water word op die oomblik glad nie gebruik nie met Naute naby Keetmanshoop op 102, 7 persent. Oanob by Rehoboth is 82,9 persent vol. In die Ooste is bronne op 39 persent.