Damme het dringend reën nodig
Daar is net 26,4 persent waterbronne in die drie sentrale damme wat onder meer Windhoek voorsien oor, volgens NamWater se weeklikse dambulletin. Von Bach is op 16,7 persent na water van Swakoppoort, wat op 51,8 persent staan, oorgepomp is. Omatako is steeds dolleeg. Die situasie in die Ooste lyk benard, met die totale bronne wat net 4,9 persent water het. Die twee Viljoendamme by Gobabis is op 22,9 en 3,6 persent. In die Suide is Hardap op 23,9 persent met net onder die 2,5 miljoen kubieke meter wat in die afgelope week benut is vir die groenskema. Naute by Keetmanshoop is op 51,5 persent en die Oanobdam by Rehoboth het 50,3 persent water. Die Neckartaldam, wat onbenut is, is 88,6 persent vol. Water word nog steeds in die Olushandjadam in die Noorde gepomp en op die oomblik is hy op 34,1 persent.