Dagga, ivoor en ietermagô haal misdaadverslag

Die Namibiese polisie sê twee Namibiërs is vas vir die besit van vier olifanttande. Die twee, 32 en 42 jaar oud, is by ‘n vulstasie in Monte Christo-weg in die hoofstad in hegtenis geneem. Op Ondangwa is twee mans, 27 en 38 jaar oud, met ‘n ietermagô-vel betrap. Die arrestasies vorm deel van ‘n geheime operasie en die twee het onwetend die vel aan lede van die mag aangebied. Die twee sal vandag in die landdroshof op die dorp verskyn. Intussen is twee groot dagga-vondse gemaak. In Khomasdal is daar beslag gelê op dagga ter waarde van net meer as 49 000 Namibiese dollar en drie mans is gearresteer. Ook in Khomasdal, is een man in hegtenis geneem nadat hy in besit van dagga ter waarde van 141 000 dollar gevang is. Die beslaglegging was ook deel van ‘n geheime operasie van die polisie. Die ondersoek duur voort.