Dagga in voertuig gevind wat in Katutura wegjaag

Die Namibiese polisie het in Windhoek op ‘n daggavonds afgekom ná ‘n jaagtog. ‘n Voertuig het ‘n tydelike polisie-padblokkade by Malaka-draai in Katutura probeer ontwyk, wat die polisiebeamptes genoop het om die voertuig agterna te jaag. Volgens Nampol-woordvoerder in die Khomas-streek, adjudant-offisier Silas Shipandeni, het die motor in Isak Kazongaristraat tot stilstand gekom, sakke dagga is afgelaai en een insittende is in die motor agtergelaat. Shipandeni sê gemeenskapslede het die polisievoertuig beskadig deur die agterruit te breek en die bande te sny. Die insittende, wat geboei was, het ook van die toneel met boeie en al gevlug.