Craft Bistro-baas wend haar aan hof om in Namibië te bly

Plaaslike media berig dat Petra Illing, mede-eienaar van Craft Bistro-restaurant, ‘n dringende aansoek by die Windhoekse hooggeregshof ingedien het in verband met haar verblyf in die land. Die sakevrou wil hê die hof moet keer dat die minister van binnelandse sake haar deporteer. Illing, ‘n Duitse burger, is al 28 jaar in Namibië en sê sy beskou die land as haar permanente tuiste. Illing is die week deur immigrasiebeamptes by haar besigheid opgelaai en is daarna 48 uur gegee om Namibië te verlaat. Sy het al verskeie kere aansoek gedoen om korttermynwerkvisums, wat verleng is. Die laaste een het op 11 November 2022 verval. Die restaurant is in die nuus met die omstrede aktivis Michael Amushelelo wat werkers bygestaan het nadat hulle blykbaar nie sedert November betaal is nie. Die bedryf het ook nie die nodige sertifisering van Stad Windhoek nie. Illing se aansoek sal op 27 Januarie deur regter Boas Usiku aangehoor word.