Covid verhoed Fishrot-verskyning

Die aansoek om die twee Fishrot-sake saam te voeg het nie voor regter Christie Liebenberg voorgekom nie. Volgens die hoof van die Namibiese Korrektiewe Dienste kommissaris Raphael Hamunyela word alle verhoorafwagtende gevangenes nie op die oomblik uit fasiliteite gelaat nie en sake moet uitgestel word. Hamunyela sê Covid-gevalle neem in tronke toe en dit moet onmiddellik onder beheer gebring word. Die twee sake hou verband met die omkoop skandaal van meer as 150 miljoen Namibiese dollar in verband met die visvang-kwotas vir die Yslandse vismaatskappy Samherji. Die tweede saak hou verband met die misbruik van mag, geldwassery, bedrog en sameswering om korrupsie te pleeg. Die saak hou verband met wanvoorstellings aan die Ontvanger oor Nengomar Pesca Namibië se inkomste. Daar is inkomste van 14,1 miljoen Namibiese dollar verklaar terwyl daar eintlik meer as 40 miljoen dollar verdien is.