Covid neem toe op Lüderitz

Die waarnemende senior mediese beampte vir die Lüderitz-distrikshospitaal, dr. M. Shikalepo het in ‘n omsendskrywe gewaarsku oor toenemende Covid-gevalle op die kusdorp. Daar is tussen 18 en 24 April, ses nuwe gevalle bevestig en daar is kommer dat die infeksies kan versprei. Besighede word gemaan om versigtig te wees en maatreëls daar te stel vir besoekers en lede van die publiek om infeksies te bekamp. Daar word ook gevra dat sosiale afstand gehandhaaf word en dat handreinigers gebruik word. Daar is volgens internasionale moniteringswebtuistes, tans 33 aktiewe gevalle van Covid in die land.