China loop oop in Omburu-tender

Vier van die 12 vooraf-goedgekeurde maatskappye wat ‘n bod ingedien het vir NamPower se Omburu battery energie-bergingsprojek is of in China gesetel of is gesamentlike ondernemings met plaaslike maatskappye. NamPower sê daar was ‘n totaal van 18 aansoeke waarvan ses Chinese firmas was. Die tender is vir die ontwerp en konstruksie van die aanleg wat ongeveer 15 kilometer suidoos van Omaruru geleë is. Omburu is ‘n sonkragstasie wat in Junie vanjaar amptelik bekend gestel is. NamPower het 317 miljoen Namibiese dollar aan die aanleg bestee. Syfers vir die jongste tender, vir die berging van energie, is nie bekend gemaak nie maar die Duitse en Namibiese regerings het 20 miljoen euro vir die projek bewillig, wat van die Duitse KfW Ontwikkelingbank bekom is.