‘Rusland buit Afrika-bronne uit om sy oorlog te finansier’

Die VSA beskuldig Russiese huursoldate daarvan dat hulle natuurlike hulpbronne in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Mali, Soedan en elders op die vasteland ontgin om Moskou se oorlog in die Oekraïne te finansier. Die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, Linda Thomas-Greenfield, sê die Wagner-groep se huursoldate buit natuurlike hulpbronne in Afrika uit en die winste word gebruik om Moskou se oorlogsmasjien in Afrika, die Midde-Ooste en Oekraïne te finansier. Sy sê Afrikane betaal ’n duur prys vir die Wagner-groep se uitbuitende praktyke en menseregteskendings. Wagner, beman deur veterane van die Russiese gewapende magte, het in Libië, Sirië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Mali en ander lande aan oorloë deelgeneem. Die groep is in 2014 gestig nadat Rusland die Oekraïne se Krim-skiereiland geannekseer het en pro-Russiese separatiste in die Oekraïne se oostelike Donbas-streek begin ondersteun het.