Charles vandag formeel tot koning geproklameer

Koning Charles III sal vandag formeel tot koning geproklameer word by ‘n seremonie by die St. James-paleis. Hy sal deelneem aan ‘n historiese troonbestygingsraad-seremonie. Ná afloop hiervan sal die eerste openbare proklamasie om elf-uur plaaslike tyd van die nuwe soewereine leier gehou word. Dit word tradisioneel deur die Kousband-wapenkoning die opelug gelees te midde van ‘n trompetgeskal vanaf die balkon van die Friary-vierkant by St. James-paleis. Geweersalute sal in Hyde Park en by die Toring van Londen afgevuur word. ‘n Tweede proklamasie sal ‘n uur later by die Koninklike Beursgebou in Londen gelees word. Afsonderlike proklamasies sal Sondag in Skotland, Wallis en Noord-Ierland gelees word.