Chaos in Baghdad na al-Sadr bedank

Minstens 15 mense is dood en tientalle ander is gewond in skermutselings tussen Irakse veiligheidsmagte en betogers in Baghdad. Betogers wat lojaal is aan Muqtada al-Sadr het die presidensiële paleis bestorm nadat hy sy uittrede uit politiek aangekondig het. Die stap word toegeskryf aan die weiering van sy teenstanders, die Sji-ï-tiese leiers en partye, om die Irakse politieke stelsel te hervorm. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het ‘n beroep gedoen op kalmte en selfbeheersing, en raai alle betrokkenes aan om onmiddellik op te tree om die situasie te ontlont en verdere geweld te voorkom.