Telecom Namibië se stelsels is eintlik al drie weke gelede deur die kuberkrakers Hunter International aangeval maar die bedreiging is afgeweer, volgens sy uitvoerende hoof, dr. Stanley Shanapinda. Hy sê in ‘n persverklaring verdere aanvalle op hulle stelsels en derde partye is voorkom. Die kuberkrakers het egter Donderdag derduisende lêers van Telecom se kliënte, waartoe hulle drie weke gelede al toegang gekry het, op die donkerweb beskikbaar gestel. Shanapinda sê dit was na hulle geweier om te onderhandel om enige losprys wat moontlik geëis is, te betaal. Hy waarsku dat enigeen wat die uitgelekte inligting gebruik of sirkuleer ‘n kriminele oortreding begaan.