Vulkane het miljarde jare gelede aan die geheimsinnige ander kant van die maan uitgebars, volgens Amerikaanse en Chinese navorsers. Ontleding van monsters wat deur ‘n Chinese sending versamel is, het basaltfragmente gevind wat van meer as 4,2 miljard jaar terug dateer. Basalt is vulkaniese gesteentes wat na ‘n uitbarsting gevorm word. Die bevindinge is in die tydskrifte Nature en Science gepubliseer. Die rots- en stofmonsters is deur die Chang’e-6-ruimtetuig versamel en is die eerste wat van die ander kant van die maan gehaal is.